Registrasie & intekening sal binnekort weer beskikbaar wees
 terug

  Die wat gesneuwel het en dié wat bykom

Soos dit maar gaan met die skaal en omvang van die program by ’n groot kunstefees is veranderinge onvermydelik. En vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees is geen uitsondering nie, wat van 29 September tot 3 Oktober op Potchefstroom aangebied word.
Die goeie nuus is egter dat daar ook ’n paar splinternuwe toevoegings gemaak is.

Die beoogde Vastrap Follies à la die Jo’burg Follies (maar in Afrikaans) moet oorstaan tot volgende jaar. In die plek daarvan en presies in dieselfde tydgleuf (soos aanvanklik in die brosjure aangedui is), kan diegene wat nog nie die gewilde Groet die grotman beleef het nie, nou wakker skrik en sien wat vang Hannes Muller aan in die gedaante van die grotkêrel.

André Schwartz se André Schwartz – Liefde? Al dan nie… het in die slag gebly en helaas gaan niemand anders sy skoene kom volstaan nie. Diegene wat hiervoor kaartjies bespreek het, kan hul kaartjies by Computicket gaan ingee en hul geld terugkry.

Die Huisgenoot-musiekplaas verander van naam, maar nie van gedaante nie. Dit sal nou bekend staan as die Rapport-musiekverhoog en mense kan steeds uitsien na ’n magdom kunstenaars wat oor die vyf dae hiér gaan optree. Mense wat kaartjies gekoop het vir Huisgenoot-musiekplaas kan hul ou kaartjies net so vir Rapport-verhoog gebruik. Sommige wat in die oorgangstydperk hiervoor wou bespreek het en voor ’n geslote deur beland het, kan nou weer gaan aanklop. Kaartjiebesprekings is herstel en kos steeds net ’n skamele R40 vir volwassenes en R20 vir kinders onder 12. Dit word aangebied by die Feesterrein en vind daagliks plaas van 11:00 tot 22:00.

Daar is ook ’n paar splinternuwe toevoegings waarvan feesgangers moet kennis neem. Rapport-boekebrekfis: Van Broederbond tot struggle; van Stellenbosch tot Mamelodi beloof om beslis ’n interessante gesprek op te lewer. Politieke ontleder Harald Pakendorf gesels met dr. Nico Smith oor sy boek Die Afrikaner-Broederbond: belewinge van die binnekant wat pas deur Lapa uitgegee is. Rapport se redakteur, Liza Albrecht, tree op as die aanbieder. Die gesprek vind plaas op Saterdag 3 Oktober om 09:00 en kaartjies kos R80, wat ’n ontbyt van die Kuierkombuis en ’n vrolike glasie vonkel insluit.

DJ-geesdriftiges kan nader staan vir Vodacom Vinyl Sessions met DJ’s soos Kent, C-Live, AK47 en Euphonik wat die plate gaan laat sing vir ’n partytjie soos min. Die vrolikhede word aangebied op Vrydag 2 Oktober by die Ikageng-sokkerstadion en begin om 19:00. Diegene wat die krag het, kan saamkuier en -dans tot in die vroeë oggendure.

Boekwurms kan gerus Aardklop se webwerf (www.aardklop.co.za) besoek om te sien watter wonderlike besprekings, voorlesings en gesprekke vanjaar by die Boeke-oase aangebied word. Saamgestel deur Corina van der Spoel van Boekehuis beloof dit om oudergewoonte ’n boekbelewenis soos min te wees.



Media-navrae: Eddie Alberts, tel: 018 294 7509 of e-pos: bemarking@aardklop.co.za